Geskiedenis
Ná sy terugkeer uit Europa in 1905 was die Vrystaatse pres. Marthinus Theunis (MT) Steyn meer as ooit tevore besiel met die ideaal van ‘n verenigde Suid-Afrika. Om dit te kon bewerkstellig moes die Afrikaner eers op geestelike, kulturele en ekonomiese gebied opgehef word. Hiervoor beywer die president hom en glo dat die doeltreffendste wyse waarop dit gedoen kan word die onderwys is.
Hoewel die land verward was deur na-oorlogse toestande, armoede en Britse oorheersing, het Steyn sy hoop gevestig op die jeug van die volk.
“Opvoeding en onderwys sal my lewenstaak wees, want daarvan hang ons volksbestaan af,” het hy gesê. Waar Lord Milner die onderwys as die middel tot vernietiging van die Afrikaner gesien het, het Steyn daarin sy redding gesien.
Ondanks die verdwyning van die meeste Christelik-Nasionale Onderwys (CNO) skole in die Vrystaat besluit Steyn, wat ook ‘n lid was van die sentrale komitee vir CNO skole was, om ‘n normaal- en meisieskool in Bloemfontein te stig waar die Afrikaanse plattelandse dogters ‘n Christelik-Nasionale opvoeding kon kry. Onderhandelinge oor die stigting vind reeds so vroeg as 1905 plaas. By die notule van elke vergadering verskyn Steyn se handtekening. Op 11 April 1907 kon die eerste klasse in aanvang neem met 35 leerlinge, 7 onderwyseresse en Elizabeth le Roux as die eerste skoolhoof.
Vir die stigting van die skool het Steyn en die kuratore finansiële steun ontvang van die NG Kerk asook uit die buiteland. Bekende Boere-leiers het in Europa geld ingesamel vir die skool. In ‘n brief aan koningin Wilhelmina skryf Steyn dat Nederland die grootste finansiële bydrae gelewer het vir die totstandkoming van die skool. By die formele opening van die skool, 2 Augustus 1907, het Steyn, as voorsitter van die kuratorium, in sy openingsrede die redes vir die stigting van die skool duidelik uiteengesit. ‘n Verslag hieroor kan in De Vriend des Volks van 9 Augustus 1907 gelees word. “Gee die vrou godsdiens, eerbied en geloof in die goeie, die edele en die heilige, en sy staan so vas soos ‘n rots. Sy sal, as die geleentheid hom voordoen, ‘n heldin word,” het hy gesê.
Steyn se dogter Gladys was ’n Oranje-leerling en ook later skoolhoof, en so ook hulle skoondogter, Rey. Een keer per jaar met die skool se verjaardag gaan al die leerlinge na die Vrouemonument waar Steyn en sy vrou, Tibbie, begrawe is om hulle dank te betuig.
Waarom die skool se naam “Oranje” genoem is
As blyk van erkentlikheid teenoor die jong Nederlandse koningin Wilhelmina vir haar meegevoel en daadwerklike steun aan die president en sy gade, is daar besluit dat die skool met sy naamgewing hulde aan die huis van Oranje sou bring. ”Mag ons die roemryke naam waardig wees, het Steyn bygevoeg.
Le Roux, eerste skoolhoof, het haar reeds tydens Oranje se 39ste verjaardag in 1946 só bygevoeg: “Die stryd van die Boerevolk herinner aan die stryd van die Huis van Oranje teen die Spaanse oorheersing. Holland se herbergsaamheid teenoor Republikeinse staatsmanne, Kruger, Steyn en ander is daarmee erken.
Ook word erken Holland se bydrae tot die behoud van die Afrikanervolk in die vorm van geld, wat bymekaar gemaak en aan die kerk oorgedra is.” Deur bemiddeling van Steyn is ‘n groot gedeelte daarvan aan Oranje geskenk.
Die skoolwapen
‘n Geruime tyd ná die stigting van die skool is daar ‘n behoefte gevoel aan ‘n skoolwapen. Dadelik ontstaan die gedagte nogeens om by die vorstehuis van Oranje aan te klop. Sou dit moontlik wees om die kenteken van daardie adellike koningshuis, wat enersyds nie net om sy dapperheid en deursettingsvermoë tydens sy godsdienstige stryd van tagtig jare teen Spanje bekend is nie, maar andersyds ook om hul eg-menslike meegevoel en hulpvaardigheid jeens ‘n moeggeslaande volkie, as pand aan ons Afrikaner-dogters te gee?
Steyn het deur die regte diplomatieke kanale aan haar majesteit koningin Wilhelmina geskrywe.
Hierdie vergunning kon die jong vorstin egter nie toestaan nie. Baie beleefd en vriendelik is die trant van haar brief, waarin sy daarop wys dat indien sy eenkeer sou toestem, sy dit aan geen ander openbare liggaam kon weier nie.
Nou tree die president en sy gade na vore en toon hul daadwerklike belangstelling in die skool, deur die familiewapen van die Steyns, afkomstig uit Haarlem, Holland vir skoolgebruik te oorhandig.
En met die leuse “Vooruit” waarvan die drie eendjies die simboliese betekenis dra, het Oranje die afgelope jare steeds voortbeweeg, getrou aan die hoë ideale wat sy ontsterflike stigter beoog het, diep gewortel in sy onwrikbare geloofsvertroue in die dogters van ons volk.
Oranje Skakels
Pre-Primêr
Webtuiste: Skool
Telefoon: 051 448 4149
Besigheidsure - Voldag:
Maandag - Vrydag: 07:00-17:15
Besigheidsure - Halfdag:
Maandag - Vrydag: 07:00-12:30
Primêr
Webtuiste: Skool | Koshuis
Telefoon: 051 447 6845
Besigheidsure:
Maandag - Donderdag: 07:00-15:00
Vrydag: 07:00-14:00
Sekondêr
Webtuiste: Skool | Koshuis
Telefoon: 051 447 4681
Besigheidsure:
Maandag - Donderdag: 07:00-15:00
Vrydag: 07:00-14:00
Reünie
Webtuiste
Navrae: Sarette Botha
Telefoon: 079 870 0495